Laerskool Rooihuiskraal…‘n skool waar kinders VOLUIT lééf! Hiér, op Rooimierbodem, help ons nie net buig aan elke boompie nie. Ons as personeel gryp elke dag die voorreg en geleentheid aan om die jong boompies te voed, te koester, te snoei en uiteindelik die vertakkings, bloeisels en krag van die wortels te sien sterk word! Hiér woeker ons om kinderharte met sekerheid die lewe in te stuur deur ‘n standvastige geloof, goeie waardes, toewyding, waagmoed en ambisie in hul menswees te vestig. Ons moedig elke Rooimier-ouer aan om jou posisie as aanmoediger en jou rol as ondersteuner, dringend en daarwérklik op te eis! Kom stap die pad saam met ons – maak in 2024 tyd om saam met u kind te groei…blaai deur hulle boeke, luister hoe hulle hul werk bemeester, vier hulle suksesse en reflekteer oor hulle teleurstellings. Die grootste faktor in ‘n kind se lewe, is die positiewe betrokkenheid van sy ouers.
By Laerskool Rooihuiskraal leef ons, ons waardes van KENNIS, VISIE en TROTS uit met groot dankbaarheid! Dis ‘n voorreg om deel te wees van die Rooimier-familie: kind-gedrewe en enig in sy soort!
Eenkeer ‘n Rooimier, Altyd ‘n Rooimier!