Die intermediêre fase is daarop gerig om fundamentele konsepte en vaardighede wat reeds aangeleer is in die grondslagfase, as vertrekpunt te gebruik en daarop voort te bou. Leerders word blootgestel aan gevorderde vakke, kennis, leerinhoud, assesserings en ander areas van fisiese, akademiese, sosiale en emosionele ontwikkeling. Kwaliteit onderrig en leer is kardinaal in hierdie fase om die nodige vordering te verseker.

Gedurende die intermediêre fase maak leerders staat op hulle voorkennis om tot ‘n groot mate onafhanklik akademies te kan werk. Hierdie fase word ook daaraan gekenmerk dat dit ‘n tydperk is waar u kind vir die eerste keer selfstandig moet leer, deur middel van die nodige bemagtiging en begeleiding. Dis belangrik dat daar in diè tydperk ‘n liefde vir leer gekweek word deur die daarstelling van ‘n positiewe leer-kultuur en gesindheid. Wanneer leerders ondersteun word met individuele doelwitstelling, akademiese roetine en struktuur en bemiddeling van leervaardighede, vergemaklik dit die aanpassing na die onderskeie nuwe grade en kweek ons so ook lewenslange leerders.

By Die Laerskool Rooihuiskraal streef ons daarna om die beste moontlike leergeleenthede vir elke leerder te bied waar aktiewe leer, kritiese benaderings tot leer en ‘n hoë standaard van onderrig, die daaglikse uitgangspunt is. Ons mikpunt is om te verseker dat betekenisvolle leer en holistiese ontwikkeling plaasvind sodat leerders voorbereid is om elke graad met die nodige kennis, inligting, vaardighede en waardes aan te pak.

Opsommend, is die onderskeie Grade se fokus soos volg:

Graad 4 is bekend vir die groot sprong en oorskakeling na ‘n nuwe fase. Leerders word ewe skielik bemoei met 6 vakke, in stede van 4, hulle word aangemoedig om vir die eerste keer die kuns van leer baas te raak en daar word ook verwag om ‘n bietjie meer onafhanklik op akademiese vlak te funksioneer. Hulle leer hoe om meer komplekse konsepte te begryp en verbindings te maak in nuwe leermateriaal.

Graad 5 leerders behoort in dié graad reeds ander vorme van assessering en leer onder die knie te hê en nou bou hulle weer voort op die kennis en vaardighede wat vasgelê is in Graad 4. Daar word uitgebrei en dieper ingedelf in die onderskeie vakke se inhoud en leerders het nou die geleentheid om met insig en die nodige agtergrondkennis optimaal deel te neem aan hul akademiese groei.

Tydens Graad 6 word die vak-inhoud en kurrikulumlading meer en ook van so aard dat leerders leerinhoud moet kan organiseer, interpreteer en toepas. Gedurende Graad 6 maak leerders veral staat op hulle uitvoerende-funksioneringsvaardighede wat hulle in staat stel om die akademiese mas op te kom.  

Graad 7 vorm deel van die senior fase en is dus so ook ‘n jaar van gereedmaking vir die hoërskool. Vakke word verder uitgebrei na 9 onderskeie vakke om leerders optimaal bloot te stel aan die wêreld rondom hulle. Leerders se selfstandigheid begin die norm raak en leerders moet verantwoordbaar raak vir hulle eie akademie en leer.

Ouers vul ‘n geweldige belangrike rol in alle areas van hul kinders se opvoeding.  Hier is ‘n paar riglyne hoe ouers ondersteuning kan bied tydens die belangrike fase, om toe te sien dat u kind sy/ haar volle potensiaal bereik:

  • Wees betrokke in u kind se akademie deur om op hoogte te bly van u kind se skoolsake en om ‘n positiewe gesindheid teenoor leer en akademie as voorbeeld vir u kind te stel.
  • Help u kind om hom/ haarself te organiseer deur doelgerigte daaglikse beplanning.
  • Stel uself beskikbaar en bied daadwerklike ondersteuning vir u kind wanneer hy/sy dit nodig het.
  • Verryk u kind se leer deur addisionele, opwindende leerervaringe te skep wat sal bydra tot u kind se ontwikkeling. Daaglikse gesprekvoering het onskatbare waarde.
  • Bemoedig sosialisering, roetine en gesonde gewoontes.
  • Fokus op die proses en nie net die eindproduk van leer nie. Prys jou kind vir harde werk, probeerslae, gemotiveerde gedrag en deursettingsvermoë.
  • Leer u kind om ‘n sin van verantwoordelikheid te handhaaf en om te streef na sukses volgens sy/ haar unieke kapasiteit.
  • Vroeë intervensie is baie belangrik. Wanneer u vermoed u kind ervaar ‘n hindernis tot leer, hoe klein ook al sy, tree onmiddellik op.
  • Maak elke dag tyd vir ontspanning, lag en lees.

Laerskool Rooihuiskraal streef na kwaliteit onderrig deur ons kennis, visie en trots!

onderrig
hoë gehalte

Akademie is heelbo aan ons lys. Ons streef na kwaliteit onderrig!

grondslag
van 'n kind

Die vaslegging van ‘n kind se grondslag is van uiterste belang. Daarom belê ons in kwaliteit-onderwysers om ons Rooimiere te onderrig!

Sport
vir balans

Rooimier-sport is ‘n fisiese spel wat in kompetisieverband plaasvind. Spanbouvaardigheid en kameraadskap word ontwikkel. Die fokus lê egter daarin om as vriende te kompeteer én as vriende weg te stap!

kultuur
geen perke

Laerskool Rooihuiskraal se kultuur bring betekenis en balans in ons Rooimiere se daaglikse ontwikkeling! Hier is talent volop!